Meer oor Nuwe Lof

Die medewerkers wat saam www.nuwelof.co.za die lig laat sien, glo dat elke generasie ‘n nuwe lied het wat in sy moedertaal na God se troon moet opstyg. Dis ons roeping om die Afrikaanse Kerk te bemagtig om aan te hou nuwe liedere sing en speel tot Sy eer alleen.

Ons missie is om Skrifgetroue, Gees-geinspireerde liedere te skryf wat maklik deur gemeentes gesing kan word, en om hulpmiddele te skep sodat gemeentes dit ook maklik kan begelei.

Groepe liedjieskrywers wat geroep voel kom bymekaar en skryf saam aan nuwe musiek vir die webwerf. Ons vul mekaar aan, voltooi mekaar se sinne en maak saam seker dat die liedjies vir gemeentegebruik geskik is.

Liedjies word lewendig opgeneem sodat gemeentes kan hoor hoe klink dit met ‘n vol orkes en met samesang, en ook in ‘n klein, akoestiese video-weergawe, sodat lofprysingspanne kan beleef hoe klink die liedjies met net stem, kitaar, klavier en cajon.

Elke liedjie se akkoorde, “lead sheet” (melodielyn-bladmusiek), liriek-video en “tracks” (begeleidingsnitte) word beskikbaar gestel om gemeentes te help met die sing en speel daarvan. Die “tracks” word verkoop om die skepping daarvan te help befonds.

Louis Brittz en Retief Burger is die moderators van die webwerf en sameroepers van die groepe skrywers.

Nuwelof.co.za is ‘n beweging sonder winsbejag en borgskappe word verwelkom om die voortbestaan van Afrikaanse lof en aanbidding te help voortbou!

Mandjie0
Daar is geen produkte tans in jou mandjie nie
Ek is nog nie klaar nie
0